Navorsing wat gedoen is oor tuisskool het gevind dat meeste tuisonderrig kinders sosiaal goed aangepas is, 'n positiewe selfbeeld het, aktief betrokke is in areas waar leierskap nodig is en gewoonlik meer volwasse is.
Dit beteken nie dat positiewe sosialisering outomaties gebeur as mens tuisonderrig nie, maar net soos met enige iets anders, is dit dalk juis makliker as met kinders in die publieke skool.
Van die mees algemene vrae oor tuisonderrig, is daar een wat amper altyd gevra word:
"Maar wat van sosialisering?"
Maar wat is die eintlike vraag?
Vir die meeste non-tuisskolers is die sosialiserings vraag eintlik:
“Wat van gereelde blootstelling aan kinders van dieselfde ouderdom en portuur groep?”
Wanneer mens hulle forseer om te stop en regtig dieper te dink oor die vraag, sal selfs hulle besef dat die vraag onnodig is.
In watter plek anders as skool het 'n mens nodig om net met mense van jou eie ouderdom te sosialiseer?
Nêrens is 'n mens geforseer om vriende te wees net met jou eie ouderdomsgroep of sosiaal beperkte netwerk nie. In die regte wêreld word werk gedoen deur spanne mense wat uit klomp verskillende persoonlikhede bestaan, met verskillende agtergronde en ouderdomme.
As mense dink dat tuisskolers hulle kinders isoleer van die wêreld, wys hulle hoe skool isoleer en hoe totaal 'onwerklik' die skool stelsel is tot die regte wêreld daarbuite.
Tuisskolers is ook gewoonlik baie aktief in die gemeenskap, wat hulle kinders insluit en juis so blootstelling gee aan die werklike regte wêreld.
So wat is dan die regte vraag?
As sosialisering gedefinieer word as:
“Die proses waar sosiale vaardighede geleer word sodat daar effektief verhoudings gebou kan word met ander mense.”
...dan sal mens moet erken dat 'n gesonde huis is die mees toepaslike omgewing, eerder as skool, om sosiale vaardighehde aan te leer.
In meeste navorsingstudies wat oral in die wêreld gedoen is, lewer skole NIE volwasse mense wat behoorlik weet hoe om ander te behandel met die nodige respek, selfvertroue en kommunikasie vaardighede nie.
Dr Gordon Neufeld (Neufeld institute, Canada) noem dat daar 'n probleem in die samelewing is wat veroorsaak word deur skole, waar kinders NIE die nodige sosiale vaardighede aanleer om effektief te integreer in die samelewing nie.
Hy gaan voort om te noem dat "Tuis onderrig is die hoop vir effektiewe sosialisering." Dit is eintlik baie logies dat 'n gesonde huis beter resultate sal lewer, synde kinders van voorbeelde leer, en in gesonde huise is volwassenes goeie modelle vir effektiewe kommunikasie en verhouding vaardighede.
In die skool is die voorbeelde slegs ander onvolwasse, selfgesentreerde kinders. In 'n gesonde huis word sosiale vaardighede konstant en aanhoudend geleer en gekorrigeer.
Sosialisering as 'n identiteit saak
Skole is ontwerp om te funksioneer as 'n stelsel met al die beperkinge ingebou om 'dieselfde produk' af te lewer.
Dit impliseer dat kinders moet konformeer en 'dieselfde' word.
Daar is nie plek vir individualiteit en uniekheid nie.
Prestasie binne die sisteem word beloon, nie persoonlikheid of potensiaal nie. Dit is waarom sommige goed presteer en ander nie.
Maar niemand is besig om 'n ware identiteit van hom/haarself te ontwikkel nie, want jy is slegs besig om 'n beeld van jouself afhanklik van die sisteem waarin jy is, te ontwikkel.
Hoeveel kinders leer om aan te pas en word dan iemand wat hulle nie is nie, net sodat hulle kan 'inpas'?
Dit gebeur al van baie jonk af, selfs in laerskool en gedurende die hoërskool word hierdie 'inpas' doelwit nog belangriker as gevolg van die alombekende groepsdruk waarmee alle jong volwassenes in die wêreld gekonfronteer word.
Die ironie is dat, al 'pas jy in' in die sosiale orde van 'n skool, jy steeds 'uit' kan voel omdat jy nie jou eie identiteit gevorm het nie maar net aangepas het by die skool se beeld van suksesvolle kinders.
Gereeld is 'n skool se definisie van sukses nie eers dieselfde as die wêreld se definisie van sukses nie (dink aan Bill Gates) so later in die lewe moet jy in elk geval weer aanpas in 'n poging om jouself te vind.
Hoeveel mense worstel nie steeds met onsekerhede selfs as grootmense, selfs as hulle oud genoeg is en eintlik ander mense met hulle onsekerhede moet help oorkom nie?
Ek glo dat sosialisering 'n kritiese saak in die samelewing is. As tuisskolers kan ons 'n verskil maak in die modellering van, nie net positiewe, maar ook invloedryke sosiale vaardighede wat uit 'n positiewe begrip van jou eie identiteit in God vloei.
Sosialisering is daarom 'n saak wat meer as net 'n toevallige vraag of vlak denke vereis as wat gewoonlik daarmee geassosieer word.
Ons moet versigtiger hieroor dink en ons kinders ook aanmoedig. Laat ons, as tuisskolers, die voorbeeld van mense wees wat regtig goeie sosialisering vaardighede modelleer, wat mense gerespekteerd en waardevol laat voel.
Laat ons met ons voorbeeld vir die wêreld wys waaroor sosialisering eintlik gaan.
|
Terug na Afrikaanse Tuisskool Kurrikulum Gids tuisblad